Vikings (televisiereeks)

Vikings is 'n televisiereeks wat deur Michael Hirst vir die History-kanaal geskryf is. Dit is in Ierland verfilm en het op 3 Maart 2013 sy debuut in Kanada gehad. In Januarie 2019 is aangekondig dat die sesde seisoen van 20 episodes, wat op 12 September 2017 voor die première van die vyfde seisoen bestel is, die laaste seisoen van die reeks sal wees. Die sesde seisoen het sy première op 4 Desember 2019 gehad. 'n Opvolgreeks met die naam Vikings: Valhalla is vir Netflix ontwikkel.

Vikings is geïnspireer deur die sagas oor Ragnar Lodbrok, 'n Wiking wat een van die bekendste legendariese helde in die Noorse mitologie was. Hy was veral berug vir sy aanvalle op Angel-Saksiese Engeland en die Wes-Frankiese Ryk. In die reeks word Ragnar as 'n boer uitgebeeld wat beroemd raak vanweë sy strooptogte op Engeland en eindelik 'n Skandinawiese koning word, met die ondersteuning van sy familie en medevegters. In die latere seisoene volg die reeks die doen en late van sy seuns en hulle avonture in Engeland, Skandinawië, Kiëf-Roes, die Mediterreense streek en Noord-Amerika.


Developed by StudentB